Die storie van Jonkershoek - waar kom die naam vandaan?

by 'nDromer | Local News

Die woord Jonker beteken letterlik ‘jong heer’, of jong, ongetroude man. So hoekom het die vallei aan die oostekant van Stellenbosch hierdie naam (sowel as die straat wat daarheen lei)?

Bergklim, fauna en flaura

Jonkershoek is een van die gewildste plekke vir dié wat die buitelug geniet (veral bergklim en bergfietsry. Die reservaat beslaan omtrent 11,000 hektaar, waarvan 204 aan Assegaaibosch behoort.

Voor die settlaars het Jonkershoek heelwat meer inheemse woud gehad, meeste waarvan gebruik is as brandstof, boumateriaal en vir die maak van waens.

In vandag se ekologiekringe is Jonkershoek steeds beroemd vir sy fynbos diversiteit; die vallei huisves 'n plantlewe van meer as 1100 spesies. (Gaan kyk na enige van ons blogs oor fynbos om hierdie interessante erfenis te verken:)

Die storie van Jan Andriessen

Die eerste jong man wat volgens geskiedenisboeke grond in Jonkershoek besit het was Jan Andriessen (of Johan Andries). Hy was ‘n Hollander gebore in 1660 in ‘n dorpie met die naam Arendsdorff, naby Den Haag.

Jan het op 19-jarige ouderdom by die Kompanjie aangesluit en is spoedig na kadet bevorder. Junior offisiere soos Jan Andriessen is blykbaar aangespreek as ‘jonkheer’. Die woord het sy bynaam geword lank nadat hy weg is by die Kompanjie.

Nadat die skip waarop hy was by die Kaap van Goeie Hoop vasgedraai het, waarskynlik op reis na Batavia, het hy vir twee jaar by die kasteel se garnisoen gewerk. Hy doen aansoek tot vrystelling en op 'n ouderdom van 22 word hy as vryburger verklaar.

Jan en Lysbeth bou 'n huis

Op 24 begin Jan bou aan die eerste huis in die Jonkershoekvallei ('n stuk grond wat hy op aansoek saammet sy vryburgerskap gekry het). Hy trou met die dame Lysbeth Jansen van die Kaap, wat vroeër gewerk het in die huishouding van Van der Stel.

Toe Jan Andries ‘de Jonker’ 28 jaar oud was, het hy amper 7 hektaar goed bewerkte grond gehad. Hy was in 'n posisie om geld te leen aan sy bure wie se plase minder suksesvol was. Vier Jaar later is deeltitels beskikbaar gestel in die vallei (amper 25 hektaar), en het die vallei heelwat meer inwoners gekry. Jan werk vir die volgende 5 jaar saam met sy nuwe bure om die vallei en paaie tussen die Jonkershoekvallei en Koelenhof (toe Kromme Rhee) in stand te hou.

Jan de Jonker is op die jong ouderdom van 37 oorlede, die pa van 3 kinders.

 

Artikel: Y Coetsee
Navorsing gedoen deur Penny Pistorius en Stewart Harris, beskikbaar by www.stellenboschheritage.co.za