Stellenbosch: "Way back when" / toeka se dae

by 'nDromer | Local News

Volg die skakels om telkens meer oor elke onderwerp te lees of om die Google Streetview te sien van hoe dit vandag lyk.

Hierdie 6 historiese fotos van Stellenbosch vertel elkeen 'n storie in hul eie reg (meeste fotos is geneem deur die bekende fotograaf Christo S. Botha).

 

koetsiershuis-christo-botha

Twee figure stap verby die "koetsiershuis" in  Alexanderstraat, naby die Braak. Ek het nog nooit die gebou se mooi rietdak raakgesien nie - dit lyk nog net so vandag (street view). Nog 'n straat met 'n interessante geskiedenis is Markstraat.


Hier foto wys een van die dorp se laaste meulwiele - hierdie ysterwiel het gestaan by die Rynse Sendingkerk (teenaan die Braak), waar die meulsloot vandag nog verbyvloei. Teen die tyd wat die foto geneem is is die derde meulgebou reeds gesloop (dit is waarskynlik vervang deur die Checkers Sentrum - street view).


Hierdie winkelgebou op die blok tussen Pleinstraat, Kerkstraat en Birdstraat was die bekende winkel van die Gebroeders de Wet. Vandag is die geskrewe "Tailors, outfitters & general import - merchants" steeds op die gebou, alhoewel die groot eikeboom op die hoek intussen uitgehaal is (street view). 


Hierdie rare foto wys die bekende De Wet steeg (by Standard bank) toe dit nog 'n residensiële area was. Die storie van die mense wat hier gewoon het is onder andere vertel in 'n installasiekunswerk van Jacques Coetzer in the 20 Stellenbosch public art exhibition. Stellenbossers sal ook onthou dat daar vir lank 'n blommeverkoper op hierdie hoek was. Foto uit Annie Hofmeyr se boek met erkenning aan die Kaapse argief. 


'n 1940 troufoto wat geneem is vanaf Heemstede voordat die universiteitskoshuise hier gebou is (streetview). Die bruid se naam was Retha Bergh, Meneer Hendrik Bergh se dogter (Hendrik Berghlaan is in Uniepark). Min van die oorspronklike huise in Van Riebeeckstraat het behoue gebly, maar die Heemstede huis staan nog, sowel as Mnr G.G. Cillié se versteekte huisie.


Twee figure stap af in Dorpstraat. Die historikus Hans Fransen skryf dat gebou soos hierdie (op die hoek van Dorpstraat en Stadlerstraat) tipies was van die winkels wat rondom die 1900s in die dorp gebou is. Vandag is die "Rozenhof cafe" verander in die Yaya Cafe (street view). Die naam "Rozenhof" verwys na die Oude Rozenhof dameslosieshuis wat lanksaan is.

Om nog fotos van Stellenbosch te sien, besoek gerus die Stellenbosch erfenis webtuiste. Kom ons beskerm ons erfenis!

 

-----------lééf Stellenbosch------------

Artikel: Y Coetsee 2017
Bronne: 1979. Stellenbosch drie eeue
Fensham, C (red.) 1978. Die Stellenbosse Heemkring - tien jaar oud
Hofmeyr, A. 1967. Die Meulsloot,
Fransen, H. & Botha, C. (1979). Ontdek Historiese Stellenbosch